by die US] skryf en raad vra. Blykbaar is die regering ook besig met ’n klomp geheime projekte waarvan die algemene kieserspubliek niks weet nie.
Hoe behou ’n mens tussen al hierdie dinge deur jou nugterheid? Hoe verwerk ’n mens dié tipe inligting – is dit hoegenaamd verwerkbaar? Hoe bly ’n mens eerlik met jouself en ondersoek alle dinge op soek na die waarheid? Een ding (nee twee) wil ek aan vashou: al dié gemors gaan nie tussen my en jou kom staan nie. Dis net so ’n ander Suid-Afrika wat ek nou leer ken.
In die tweede plek (gelykstaande aan die eerste) mag dit nie tussen my en die Here en ’n naïewe, kinderlike geloof in sy oorwinning oor die Bose kom nie. Laat ek dit so stel: die geweld, ook van die regering se kant, laat my Amor se radikalisme (en die ANC s’n) ’n bietjie beter verstaan. Johan bewonder die ANC se geduld, dat hulle so lank gewag het voordat hulle tot geweld oorgegaan het. Ek (ons) moenie so word nie, hoor! Maar hoe maak ’n mens dan erns met alles, hoe behou ’n mens spel, vreugde, hoop, humor?
Donderdag, 01:30
Toe ek nou so in die bed lê en probeer bid, kom daar sommer weer ’n klomp goed in my kop op. Toe wonder ek of ek nie simpel is/was om al die goed vir jou te skryf nie en of ek nie heeltemal oorreageer nie. Miskien is dit net die skok van ’n ontmoeting met ’n ander wêreld in Suid-Afrika.
Toe dink ek ook weer aan wat Gerrit Viljoen [voormalige voorsitter van die Broederbond, in daardie stadium minister van onderwys] later gesê het: Dat daar nie hervorming sonder orde kan wees nie, hervorming gaan gepaard met onstabiliteit. Verder: nóg die ANC nóg die veiligheidspolisie is almal engeltjies. Die tragedie van apartheid is dat mooi bedoelings op ’n hoë vlak deur staatsamptenare op ’n lae vlak gekelder word. Hoe moet ’n staat sy veiligheid waarborg – waar word die streep getrek? Is al die regering se hervormings dan niksseggend/irrelevant/kosmeties? Is daar soveel boosheid in alles wat die regering en die Christene in die regering doen? Is ek baie naïef? Wat van swart mense soos Fano [Sibisi] van die Kwasisa Bantu-sendingstasie [in die destydse Natal] wat ons verlede jaar besoek het en wat nie so krities oor die regering is nie?
Tog bly die tragedie van onskuldige mense wat op gruwelike wyses deur die veiligheidspolisie gemartel word. Weet die mense daar bo in die regering daarvan, bv. Gerrit Viljoen, Dawie de Villiers [oudpredikant, oud-Springbokkaptein en in daardie stadium minister van handel en nywerheid en, soos Gerrit Viljoen, as “verlig” beskou]?
Aan die ander kant: miskien is Amor en kie. ook nie so onskuldig nie. Wat is die dilemma/verantwoordelikheid van ’n staat om sy veiligheid teen bv. ondermynende lektuur te beskerm? Wie bepaal wat is ondermynend of nie?
Maar wat gee die regering die reg om burgerskap aan swart mense terug te gee wat hulle nooit eens mag weggevat het nie? En hoekom het die NGK nie vroeër geluister na die kritiek op apartheid nie?
Wat weer van die baie mense met konserwatiewe politieke standpunte, wat terselfdertyd toegewyde Christene is, soos oom Carel Boshoff, my ma, ouma Smit? Het my oupa nie van al dié dinge geweet nie – volgens Pa-hulle was hy dan ’n geliefde minister van naturellesake? Is dié beeld wat hulle en ek van hom het dalk die produk van eensydige indoktrinasie? Het ons elkeen (al die blankes) kollektiewe skuld aan wat, bv., die veiligheidspolisie doen/gedoen het? Dan is ons mos skuldig aan alles wat almal verkeerd doen?
Is ek nie besig om te rasionaliseer nie? Hoe versoen ’n mens die verskillende wêrelde in Suid-Afrika? Veral as die regering meestal vanuit een wêreld optree/dink/doen – ’n konflik tussen die Eerstewêreld en die Derdewêreld? Ag, alles raak weer so teoreties …
12 Julie 1986, 15:20
Ek wou ook nog graag gereageer het op wat jy geskryf het, Melanie, oor al die bomme en Nelson Mandela en die honger kindertjies. Dis so ontsettend moeilik om te weet wat om prakties te doen aan al die gebrokenheid …
Ek is bly dat ek gekonfronteer word met die “verbode” inligting. Ek is wel ’n bietjie bang om die boek oor Biko te lees. As ’n mens dié tipe goed lees en hoor dan voel jy later: Nou wat is dan nog mooi, kan ’n mens dan ooit lag en vrolik wees en die lewe geniet terwyl al die mense so swaarkry en ly? Ek vertel nou die dag vir Amor hoe mooi die sneeu in Jonkershoek lê, toe wonder sy of dit ook mooi is vir die mense in sinkpondokkies in Kruispad. Ek weet sy is nie reg nie, maar ek weet ook nie wat die regte antwoord is nie. Dan is dit of dit makliker is om maar nie van al die gemors in die wêreld te hoor nie.
Dan dink ek weer dat Christus juis met die sondaars en hoere gemeng het, dat hulle graag na Hom gekom het, dat Christus sy Blye Boodskap geleef het in ’n tyd toe daar ook armoede, politieke ongeregtigheid, godsdienstige skynheiligheid, sedelike verval was. Maar dan weet ek nie hoe om Hom altyd te volg nie. Hy is soms so geweldig radikaal. Wat is die implikasies van alles wat Hy sê: “verkoop alles … wie nie broer of familie of vrou haat (tweede stel) nie … ” ens. Dan wonder ek of ons ooit in Stellenbosch ons verantwoordelikheid en betrokkenheid (nie net geld nie) ernstig genoeg opgeneem het. Wat kan ons meer doen, hé? Waar trek ’n mens die streep?
Dit is seker die goed wat my (al is dit ook onbewustelik) die meeste ontstel. Miskien omdat dit op so ’n vreemde/harde/konfronterende manier d.m.v. Amor tot my gekom het. (Ek is nou al selfs lief vir haar, ons kom nou goed oor die weg.)
Die ander ding wat my ook baie ontstel, is Rudolf en sy homoseksualiteit wat hy so vrymoedig uitleef (soos baie ander hier). Wat ek wonder is of dié mense nie ook tot Christus aangetrokke sou gevoel het nie (soos die hoere). Eintlik is ek seker daarvan. Maar wat dan van ons kerk se liefdelose oordeelshouding? Kan ek hom met vrymoedigheid uitnooi om ’n Christen te word? Wat dan van die oordeel? Wat as hy so gebore is – soos dit vir my lyk/klink?
Wilhelm
My groeiende vriendskap met Amor het nie beteken dat sy my met rus gelaat het nie. Inteendeel. Toevallig het sy ook filosofie by die US gestudeer, by dieselfde dosente as ek. Soos ’n Sokrates van ouds – die steekvlieg van die Grieke – kon sy daarom ’n paar gate in nog ’n paar dyke rondom hierdie Stellenbosse Stryder en student steek. Dié keer was dit nie gesagsfigure in die NGK of die regering waaroor ’n paar vraagtekens geplaas is nie, maar mentors op wie se politieke oordeel ek baie vertrou het.
16 Julie 1986, 01:00
Liewe Melanie
Lyk my dis weer tyd vir een van ons laatnag-vroegoggendgeselsies. Hierdie keer is die probleem dienspligweiering of nie. Miskien moet ek eers verduidelik hoe ons daarby uitgekom het. Ek stem nie saam met alles wat Amor sê nie, maar ek het tog ’n paar goeie argumente gehoor.
Ek wil nie logies/klinies klink of dink oor al dié dinge nie, maar miskien is dit dan ’n bietjie makliker om ’n mens se emosies uit te sorteer. Dis eintlik nou nogal ’n snaakse gevoel: ek het nie antwoorde op wat hulle sê nie en die inligting/perspektiewe is eintlik baie ontstellend en ek kan dink dat ek maklik met haar sou kon saamstem. Maar dit is so asof ek weet – met my hart – dat dit nie die enigste interpretasie is nie, dat ek nie met alles kan saamgaan nie. Ek wens ek het meer feite/kennis tot my beskikking gehad. Ek sal miskien, nee ek dink ek moet vir Gawie [de la Bat, ’n universiteitsvriend] of prof. Willie [Esterhuyse] of Fano (of almal) skryf.
Amor-hulle is glad nie beïndruk met hom [Willie Esterhuyse] nie – sê hy is ’n tweegatjakkals: Hy behoort aan die Broederbond en dan maak hy al die verligte uitsprake. Sy hou ook niks van prof. Hennie [Rossouw, filosofieprofessor aan die US] nie a.g.v. “sy aandeel om die blanke Afrikaneridentiteit van die US te handhaaf”.
Dit is eintlik waar die gesprek begin het. Sy het gesê sy het nie meer respek vir prof. Hennie as mens nie a.g.v. bg. tipe dinge. Sy het wel respek vir sy filosofiese vermoëns. Toe probeer ek verduidelik dat al stem ek nie saam met alles wat hy sê/doen nie, ek steeds my respek vir hom as mens behou en dat dié respek ’n verskil gaan maak aan die wyse waarop ek van hom gaan verskil. Sy wil toe weet hoe ver ek bereid sal wees om teen sy gesag in te gaan. Waaroor dit toe eintlik gegaan het, is hoe ver ek bereid is om op te staan vir die waardes waarin ek glo.
Ek het eintlik net weer besef dat ek nie rêrig die konsekwensies van veral my politieke oortuigings al deurdink het nie. Ek het soveel meer op Christelike waardes en oortuigings gekonsentreer.
Aan