hy sy minnares en moeder van sy twee kinders, die hoëpriesteres Norma, wil verlaat ter wille van een van die ander priesteresse, Adalgisa (mezzo). Norma (sop) verskyn en sing die beroemde Casta diva (Reine godin), ’n aanroeping van die maan. Bedryf II. Norma is by haar kinders in die hut waar sy hulle versteek. Adalgisa kom binne en bely dat sy ’n minnaar het. Pollione verskyn en Norma besef hy is Adalgisa se minnaar. Bedryf III. Norma vra Adalgisa om haar kinders na Pollione te neem want sy wil sterf. Adalgisa sê egter dat sy Pollione se liefde verwerp om Norma se ontwil (Mira o Norma – Kyk, o Norma). Bedryf IV. Oreveso spreek die Druïdes toe, maar ten spyte van hul haat jeens die Romeine gehoorsaam hulle Norma se oproep tot vrede. Norma verneem egter dat Pollione hom nie laat beweeg het deur die pleidooie van Adalgisa nie en in woede vuur sy die Druïdes aan tot oorlog (Guerra! Guerra! – Oorlog, oorlog!). Daar moet ’n offer gevind word en Pollione, wat so pas die heiligdom binnegekom het, word aangegryp. Alleen, treiter Norma hom en hy pleit om genade, maar Norma sweer dat sy nou Adalgisa sal laat sterf. Voordat sy hierdie besluit kan bekend maak, is haar berou te groot en sy kondig aan dat sy self die offerande sal wees.
I Puritani (Die Puriteine) (170 min) Opera in drie bedrywe. Hoewel die opera in Engeland afspeel, het die karakters Italiaanse name. Bedryf I. Elvira (sop), dogter van die Puriteinse kommandant, gaan trou met Riccardo (bar), maar sy is eintlik verlief op Arturo (ten), ’n koningsgesinde. Elvira se vader word oorreed om toe te stem tot haar huwelik met Arturo, wat in die vesting verwelkom word al is hy ’n vyand. ’n Gevangene word binnegebring en Arturo besef dit is die koningin, Enrichetta (mezzo), weduwee van die vermoorde koning. Wanneer Elvira speels haar bruidsluier oor Enrichetta se kop hang, besef Arturo dat hy haar met dié vermomming kan red. Hy doen dit, en Elvira glo dat Arturo haar ter wille van ’n ander vrou verlaat het. Bedryf II. Binne die Puriteinse vesting, beleër deur die rojaliste, gee Elvira in ’n groot waansintoneel uiting aan haar verwarring en emosionele skok (Qui la voce – Hier, in sy soete stem). Hoewel Riccardo nog verbitterd is omdat hy Elvira verloor het, oorreed Giorgio (bas) hom om Arturo ter wille van Elvira te gaan soek (Il rival salvar tu puoi – Jy sal jou mededinger kan red). Bedryf III. In ’n skuilplek op die slagveld hoor Arturo Elvira se stem. Hoewel hy op vlug is, sing hy die refrein van die lied en sy sluit by hom aan en hoor sy verduideliking van sy verdwyning. Sy verval tog weer in verwarring en hulle word gevang. Die rojaliste is egter verslaan en ’n algemene amnestie word aan alle gevangenes verleen.
La Sonnambula (Die slaapwandelaar) (130 min) Opera in twee bedrywe. Bedryf I. Toneel 1 Amina (sop), ’n weeskind, gaan trou met ’n ryk jong boer Elvino (ten), op wie Lisa (sop), eienares van die herberg, self verlief is. Terwyl die huwelikskontrak geteken word, verskyn graaf Rodolfo (bas), wat jare weg was en nie herken word nie. Amina sing van haar vreugde (Come per me sereno – Hoe vredig vir my). Die graaf komplimenteer haar en Elvino bars uit in jaloesie (Son geloso del zefiro errante – Ek is jaloers op die briesie). I. 2. Die graaf is in sy kamer in die herberg. Lisa besoek hom, maar vergeet haar sjaal op die sofa wanneer sy vertrek. Amina kom binne: sy loop in haar slaap en die graaf besef sy is die “fantoom” waarvan die hele dorp praat. Hy verlaat die kamer en sy gaan lê en slaap op die sofa waar Lisa en die dorpenaars haar aantref. Elvino glo dat sy hom bedrieg het. Bedryf II. Toneel 1. Die dorpenaars vra die graaf om in te gryp. Elvino kry Amina en vat sy ring terug, al sê die dorpenaars die graaf sal van haar onskuld getuig. II. 2. Elvino het nou besluit om met Lisa te trou. Die graaf verduidelik wat ’n slaapwandelaar is, maar niemand verstaan dit nie. Dan verskyn Amina in die beroemde slaapwandeltoneel. Sy is in lewensgevaar en almal bly stil sodat sy nie wakker skrik en haar doodval nie. Nog aan die slaap sing sy oor haar verlore geluk (Ah! non credea mirarti – Wie sou dit kon glo!). Elvino glo nou wat gebeur het en gee die ring terug en Amina sing ’n vreugdevolle aria met koor (Ah! non giunge uman pensiero! – Menslike denke kan nie begryp nie).
Benedictus Geseënd. Onderdeel van die Sanctus, ’n deel van die *Mis.
Berceuse Wiegelied.
BERG, ALBAN (9 Feb 1885–24 Des 1935) As seun van welgestelde ouers het hy in ’n musiekbewuste huis grootgeword en ’n onbekommerde lewe in Wenen en in die familie se plattelandse verblyf deurgebring. In 1900 sterf sy vader en beland die gesin in geldelike sorge; Berg word ’n staatsamptenaar. In 1904 reël sy ouer broer dat hy musiekles ontvang by *Schoenberg, aanvanklik kosteloos. Danksy ’n erflating kom die gesin finansieel weer op die been. Berg kan uit sy werk bedank en voltydse aandag aan musiek wy.
In 1914 sien hy ’n opvoering van die drama Wozzeck van Georg Büchner en besluit om ’n opera daarop te komponeer. Militêre diens onderbreek sy werk, maar in 1922 is die opera voltooi. Hy sukkel om dit opgevoer te kry, en berei ’n konsertweergawe voor, Drie Fragmente uit Wozzeck, wat in 1924 met groot sukses aangebied word. Op 14 Desember word die opera self in Berlyn opgevoer en dit besorg hom onmiddellik wêreldwye roem.
Intussen het Berg hom tot kamermusiek gewend en ontstaan o.m. die Kammermusik en Lyrische Suite waarin hy met die *twaalftoonsisteem eksperimenteer. Hy wou egter nog ’n opera skryf en in 1928 kry hy die plan om twee stukke van die dramaturg Wedekind saam te vat in Lulu. Sy werk hieraan word onderbreek deur die opdrag om ’n vioolconcerto te skryf. Vier maande nadat hy die concerto voltooi het, sterf Berg a.g.v. ’n infeksie ná ’n insekbyt. Van Lulu was die eerste twee bedrywe voltooi en die derde bedryf ongeveer een derde, met sketse vir die res. Dit is eindelik in 1979 ná die dood van Berg se weduwee deur Friedrich Cerha voltooi.
Berg het ’n onbestendige lewe en ’n ongelukkige loopbaan gehad. Deur die Nazi’s is hy as ’n ontaarde komponis beskou en ironies genoeg het sy vroeë dood hom moontlik van vervolging gered. Sy werke is nie dikwels uitgevoer nie. Nietemin is hy die mees aanvaarde van die Weense komponiste wat rondom Schoenberg en sy twaalftoonskool gewerk het. Hy word vandag veral onthou om Wozzeck en die Vioolconcerto.
OPERA
Wozzeck (90 min) Opera in drie bedrywe. Die ongewone orkestrasie verg ’n militêre orkes, ’n restaurantorkes, hoog gestemde viole, ’n akkordeon, ’n vals staanklavier, ’n bombardon (’n soort bastuba) en ’n kamerorkes. Die sangstyl is die sg. *Sprechstimme en daar is nie juis sprake van arias nie. Bedryf I. Die verhouding tussen Wozzeck (bar) en Marie (sop), en hul buite-egtelike kind, word na vore gebring. ’n Verhouding ontstaan tussen Marie en die tamboer-majoor (ten). Bedryf II. Wozzeck word gehoon oor die verhouding tussen Marie en die tamboer-majoor, en in verskeie tonele word hy in al hoe groter spanning geplaas en eindelik selfs deur die tamboer-majoor geslaan. Bedryf III. Wozzeck vermoor Marie by ’n dam, maar wanneer mense die bloed aan sy hande sien, gaan hy terug na die dam op soek na sy mes. Hy stap in die dam tot hy verdrink.
BERIO, LUCIANO (24 Okt 1925) Italiaanse komponis. Hy het o.m. by *Dallapiccola gestudeer en was aan die hoof van ’n elektroniese ateljee in Milaan. Hy het byna ’n dekade lank in Amerika gedoseer. Hy het ’n sg. collage-styl ontwikkel waarin hy op groot skaal gebruik maak van temas en motiewe uit die werk van ander komponiste.
BERKELEY, LENNOX (12 Mei 1903) Engelse komponis. Hy het onder Nadia Boulanger gestudeer waar hy kennis gemaak het met Stravinsky en Poulenc. Sy musiek is tradisioneel, hoewel hy in later jare deur die serialisme beïnvloed is. Hy het simfoniese werke, concerto’s, kamermusiek en klavierwerke asook ’n groot hoeveelheid vokale musiek, o.m. vier operas, geskryf.
BERLIOZ, HECTOR (11 Des 1803–8 Mrt 1869) Berlioz was die seun van ’n plattelandse dokter wat gehoop het sy seun sou in sy spore volg. Die pa het egter belangstelling in musiek gehad en Berlioz leer fluit speel. Die musiekonderwyser het die seun se talent raakgesien en hom ekstra lesse gegee.
In 1821 gaan hy na Parys om vir dokter te leer, maar musiek bly sy passie. Hy word diep geïmponeer deur die operas van Gluck en skryf na sy ouerhuis dat hy komponis wil word. Dit word met hewige ontsteltenis ontvang. Berlioz se sterk emosionele geaardheid blyk nou reeds. Hy kry dit egter reg om hom by die konservatorium in te skryf en reeds op 22-jarige leeftyd blyk sy sin vir die teatrale deurdat hy ’n uitvoering reël van sy eie Messe solennelle met ’n orkes van 150 lede. Daar was ’n goeie leermeester by die konservatorium, Reich, wat oortuig was van die student se genialiteit.
In September 1827 besoek ’n Engelse toneelgeselskap Parys om Shakespeare op te voer en ’n aktrise met die naam Harriet Smithson speel die rol van Ophelia in Hamlet. Hoewel Berlioz nie ’n woord Engels verstaan nie, is hy in vervoering.