Koos Human

Die A tot Z van Klassieke Musiek


Скачать книгу

die roos. Hulle sing ’n duo (Parle-moi de ma mère – Vertel my van my ma) en Micaela vertrek. Daar is rumoer in die fabriek: Carmen het iemand met ’n mes gesteek en José arresteer haar. Sy sing ’n *seguidilla met allerlei beloftes (Prés des remparts de Séville – Op die skanse van Sevilla) en José help haar om te ontsnap. Bedryf II. ’n Herberg. Carmen en haar vriendinne dans (Les tringles des sistres tintaient – Die tamboeryne het geklink) en dan verskyn die stiervegter Escamillo (bar). Bewonder deur almal besing hy homself (Votre toast – Jul heildronk). Na sy vertrek wag Carmen op José wat weens sy oortreding self gevange geneem is. Hy het nog steeds die verwelkte roos en betuig sy liefde (La fleur que tu m’avais jetée – Die blom wat jy na my gegooi het). José baklei met ’n luitenant wat die herberg binnekom en is nou deel van die smokkelaarsgroep wat die herberg as kwartier gebruik. Bedryf III. Die smokkelaars se bergkamp. Die smokkelaars verskyn met hul ware op die kranse (Écoute, compagnon – Luister, vriend). Carmen en haar vriendinne lees die toekoms uit kaarte, maar die dood word telkens voorspel (En vain pour éviter les réponses amères – Verniet probeer mens die antwoorde ontken). Micaela verskyn op soek na José (Je dis que rien ne m’épouvante – Ek sê niks maak my bang nie) en kruip weg wanneer Escamillo verskyn en met José slaags raak. Carmen beëindig die bakleiery en nadat Escamillo almal na sy volgende stiergeveg uitgenooi en vertrek het, word Micaela gevind. Sy oorreed José om met haar na sy sterwende moeder te gaan (Moi, je viens te chercher – Ek het jou kom soek), maar hy sê vir Carmen dat hy later sal terugkeer. Bedryf IV. Die arena in Sevilla. Escamillo en Carmen verskyn (Si tu m’aimes – As jy my liefhet). Die stiervegter gaan die arena binne en Carmen wag. José verskyn en pleit by Carmen. Sy weier egter om Escamillo ter wille van hom te verlaat en hy vermoor haar terwyl die toreador se lied triomfantelik in die arena opklink.

      BLISS, ARTHUR (2 Aug 1891–27 Mrt 1975) Engelse komponis. Hy het les gekry by Stanford, Vaughan Williams en Holst. Afgesien van drie jaar in die VSA het hy in Engeland gewoon. Hy is veral bekend om sy Music for strings (’n werk vir strykorkes), ’n klavierconcerto, klarinetkwintet en ’n sonate vir altviool en klavier. Hy het ook ’n opera en verskeie ballette en bykomstige musiekwerke geskryf.

      BLOCH, ERNEST (24 Jul 1880–15 Jul 1959) Switsers/Amerikaanse komponis. Hy is in Genève gebore en het reeds as jeugdige begin komponeer. In 1915 word hy professor aan die Geneefse Konservatorium, maar die volgende jaar verhuis hy na die VSA waar hy hoof word van sowel die Cleveland Institute of Music as die Konservatorium van San Francisco. Die meeste van sy werke is diep gewortel in die Joodse geloof.

      Schelomo (21 min) Die subtitel van hierdie werk is “Hebreeuse rapsodie vir tjello en orkes” en dit gee ’n beeld van Salomo as die denker van die Prediker eerder as die magtige koning in al sy weelde. Volgens Bloch self is die eerste tema ingegee deur die woorde “alles is ydelheid”, maar die sfeer van die musiek verander en gee ’n voorstelling van die praal van Salomo. Die aanvanklike luim keer egter terug en mediterend eindig die werk met ’n uitgerekte lae noot op die tjello. Schelomo is een van die belangrikste twintigste-eeuse werke vir tjello en orkes.

      Blokfluit ’n Houtblaasinstrument. ’n Houtblokkie is tussen die snawelvormige mondstuk en die buis aangebring sodat die lugstroom net deur ’n smal spleet kan ontsnap. Dit is een van die oudste instrumente, waarskynlik uit die twaalfde eeu, en populêr tot sowat 1750. In afgelope dekades het dit weer gewild geword, hoofsaaklik omdat dit ’n eenvoudige instrument vir onderrig is.

      Blues ’n Jazz-lied met ’n swaarmoedige of onvergenoegde aard, van Amerikaanse Neger-oorsprong en met ’n redelik kenmerkende vorm.

      BOCCHERINI, LUIGI (19 Feb 1743–28 Mei 1805) Italiaanse komponis. Hy is in Lucca gebore, maar het die grootste deel van sy lewe in Madrid deurgebring, hoewel hy ’n tyd lank hofkomponis was van Friedrich Wilhelm II van Pruise. Reeds op dertien was hy ’n tjellovirtuoos. Hy het veral vir strykers gekomponeer, o.m. 125 kwintette, 102 kwartette en 60 trio’s. Die bekende Menuet kom uit die Kwintet op 13 no 5. Boccherini is in groot armoede oorlede.

      BOIELDIEU, FRANÇOIS (16 Des 1775–8 Okt 1834) Franse komponis. Hy is in Rouen gebore en is later na Parys, waar hy groot sukses behaal het. In 1834 word hy direkteur van die opera in St Petersburg. Na sy terugkeer, agt jaar later, het hy opnuut Paryse gehore verower, o.m. met La dame blanche (Die wit dame), ’n opera waaruit uittreksels vandag nog gehoor word.

      BOITO, ARRIGO (24 Feb 1842–10 Jun 1918) Italiaanse komponis en librettis. Hy is in Padua gebore en het in Milaan gestudeer. Van vroeg af is sy aandag verdeel tussen musiek en letterkunde. Op 26 skryf hy die opera *Mefistofele, maar a.g.v. die heftige gevoelens destyds tussen die tradisionaliste en moderniste ontstaan daar sulke onluste dat die polisiehoof die opera afgelas. Eers sewe jaar later is Mefistofele weer opgevoer. Sy tweede opera, Nerone, het hy nie voltooi nie. Boito het ook verskeie libretti geskryf, o.m. Verdi se Otello en Falstaff en Ponchielli se La Gioconda.

      OPERA

      Mefistofele (140 min) Opera met proloog, vier bedrywe en epiloog. Proloog. Onder die gesang van engele kry Mefistofeles (bas) verlof om Faust tot ’n val te bring. Bedryf I. Frankfurt. Faust (ten) word gevolg deur ’n monnik. In sy studeerkamer besing hy die natuur (Dai campi, dai prati – Van die velde, van die lande). Mefistofeles (bas) verskyn in monnikgewaad en stel homself bekend (Son lo spirito che nega – Ek is die gees wat [altyd alles] negeer). Hulle sluit ’n kontrak waarvolgens Faust sy siel in ruil gee vir Mefistofeles se dienste. Bedryf II. Mefistofeles het gereël dat Faust Margherita (sop) ontmoet, en hy maak haar die hof. Hierna verskyn Mefistofeles en Faust by ’n heksesabbat waar eersgenoemde ’n kristalbal van die aarde bewonder (Ecco il mondo – Hier is die wêreld). Faust het ’n visie van Margherita in die tronk. Bedryf III. Die waansinnige Margherita is daarvan aangekla dat sy haar kind vermoor het (L’altra notto – Nou die aand). Faust verskyn en hulle wil weggaan (Lontano, lontano – Ver, ver), maar Mefistofeles kom in. Margherita smeek om genade en sterwe. ’n Engelekoor sing van haar vergifnis. Bedryf IV. Aan ’n rivieroewer ontmoet Faust vir Helena van Troje (sop), op wie hy verlief raak. Sy vertel hom van die val van Troje. Epiloog. Faust is in sy studeerkamer. Mefistofeles wil hom verlei, maar Faust neem sy Bybel en bid. Hy sterf teen ’n agtergrond van engelekore.

      Bolero Spaanse dans in drieslagmaat.

      Boogie-woogie Styl van jazz-klavierspel met kenmerkende staccato linkerhand van gebroke akkoorde.

      BORODIN, ALEXANDER (12 Nov 1833–27 Feb 1887) Russiese komponis. Hy is in St Petersburg gebore, die buite-egtelike kind van ’n prins en ’n intelligente jong dame, wat hom ’n goeie opvoeding gegee het. Hy het vroeg musiektalent geopenbaar en lesse ontvang, maar besluit om medikus te word. In 1863 trou hy met ’n begaafde pianiste wat hom intiem met die romantiese komponiste laat kennis maak. Die volgende jaar word hy professor in chemie in St Petersburg. Hy het ontwikkel tot ’n vooraanstaande wetenskaplike wat baie gepubliseer en al hoe minder tyd vir musiek gehad het. Daarby was sy vrou sieklik en moes sy later in Moskou gaan woon, wat meegebring het dat Borodin heelwat tyd moes deurbring met reise tussen die twee stede.

      Sy vernaamste musikale prikkels het gekom van Balakiref, Moessorgski en later Rimski-Korsakof. Hulle het baie van sy werke afgerond en georkestreer, maar soms ook onnodig verander aan voltooide komposisies. Borodin het die vreugde gesmaak dat heelwat van sy musiek in Europa goed bekend geword het, o.m. deur die bemoeiinge van Liszt en ’n Belgiese gravin, aan wie hy verskeie liedere opgedra het. Hy het plotseling tydens ’n geselligheid van die Mediese Akademie aan ’n hartaanval beswyk. Sy vrou is vyf maande later oorlede.

      Ten spyte daarvan dat Borodin ’n amateur was en heelwat werk onvoltooi gelaat het, is hy naas Tsjaikofski seker die vernaamste Russiese komponis van die negentiende eeu en het ’n belangrike bydrae gelewer op die gebied van opera, orkesmusiek, kamermusiek en liedere.

      ORKES

      In die Steppes van Midde-Asië (7 min) ’n Evokatiewe kort toondig waarin Borodin die uitgestrekte Russiese steppes voorstel, met ’n karavaan wat verskyn en weer in die eindelose verte verdwyn. Swewende viooltone en die gebruik van blaasinstrumente herskep die gees. Hierdie werk is een van die hoogtepunte in die Russiese nasionale musiek.

      Simfonie no 2 in B min (28 min) Die eerste uitvoering van hierdie werk in 1877 was geen sukses nie, maar ’n herorkestrasie het gelei tot ’n gelukkiger