die hele reeks. Dit bestaan net uit twee bewegings. I. Maestoso: Allegro con brio ed appassionato Nog een van die weinige gevalle waar Beethoven ’n inleiding tot ’n eerste beweging het: dramatiese akkoorde, gevolg deur ’n marsagtige vinnige deel. II. Arietta: Adagio molto semplice cantabile Die laaste twee woorde in die aanwysing is deurslaggewend – eenvoudig, sangerig. Die koraalagtige melodie word gevolg deur ’n aantal variasies wat nie genommer is nie. Anders as by die normale tema-en-variasie is elkeen nie ’n afsonderlike uitwerking van die tema nie, maar hulle bou in ’n hegte strukturele eenheid op tot ’n klimaks wat weer sangerig verstil in ’n musikale teenhanger van die katarsis in die Griekse tragedie.
VOKAAL
Beethoven het grotendeels instrumentale musiek gekomponeer, maar nietemin ’n aansienlike en belangrike skat aan vokale werk nagelaat. Hy het sowat 80 liedere gekomponeer en sowat 150 Ierse, Skotse en Engelse volksliedjies verwerk. Naas die slotbeweging van die *Simfonie no 9 het hy nog ses sekulêre werke vir koor geskryf (o.m. die Koorfantasie vir klavier, solostemme en orkes op 80, ’n voorstudie vir die Finale van Simfonie no 9), asook twee misse en ’n oratorium. Hy het ook een opera nagelaat, *Fidelio.
Beethoven se liedere het soms orkesbegeleiding en soms Italiaanse woorde, maar die merendeel is in Duits met klavier. Die bekendste Italiaanse lied is In questa tomba oscura (In hierdie donker kelder) en onder die Duitse liedere (met tekste van o.a. Goethe) is Adelaide, Andenken (Herinnering), Die Ehre Gottes (Die eer van God) wat begin met die woorde Die Himmel rühmen (Die hemele roem), Wonne der Wehmut (Vreugde van die weemoed), Zufriedenheit (Tevredenheid), Zärtliche Liebe (Tere liefde) en An die Hoffnung (Aan die hoop). Baie van die liedere is voor Schubert se geboorte gekomponeer en Beethoven se rol as grondlegger van die Duitse Lied is lank misken.
Hy het ook die eerste volwaardige liedersiklus gekomponeer, An die ferne Geliebte op 98 (Aan die verre geliefde) (15 min), wat boonop ’n aaneengeskakelde geheel is sonder enige pouse tussen die ses liedere, en ’n begin en ’n hoogtepunt in die romantiese sangkuns verteenwoordig. Die liedere (almal strofies behalwe die laaste) handel oor die romantiese liefdesverlange met die tradisionele verwysings na berge (bv. 1. Auf dem Hügel sitz ich spähend – Op die heuweltop sit ek en tuur; 2. Wo die Berge so blau – Waar die blou berge), wolke (bv. 3. Leichte Segler in den Höhen – Ligte seilskepies omhoog; 4. Diese Wolken in den Höhen – Hierdie wolke daar bo), die lente met blomme, voëltjies en kabbelende stroompies (bv. 5. Es kehret die Maien – Mei keer terug). Die slotlied (no 6) is die eintlike opdraglied: Nimm sie hin denn, diese Lieder (Neem dan hierdie liedere).
Missa solemnis in D op 123 (70 min) Hierdie grootse *Mis vir stemkwartet, koor en orkes is oorspronklik beoog as ’n huldigingswerk vir die wyding van sy vriend aartshertog Rudolf as Aartsbiskop van Olmütz. Beethoven het egter so verdiep geraak in die musikale en religieuse aspekte van sy selfopgelegde taak dat die Mis eers drie jaar na die geleentheid voltooi is. I. Kyrie: Assai sostenuto Na ’n orkesinleiding stort die koor hom in die werk, en sy kragtige aanvang word voortgesit in die liriese kwartet. II. Gloria: Allegro vivace In stryd met die liturgiese gebruik is dit nie ’n solis nie, maar die koor en magtige orkes wat dadelik optree. III. Credo: Allegro ma non troppo Ook hier word die liturgiese voorskrif verontagsaam en begin die koor die langste en mees komplekse onderdeel van die Mis. Die tenoorsolo sing Et incarnatus en word later deur die ander lede van die kwartet bygestaan. IV. Sanctus: Adagio Soos by die ander dele, is die aanvanklike tempo-aanduiding maar een van talle wat die vinnig veranderende musiek beskryf. Die kwartet met tremolo strykers lei tot twee fugale dele, en dan kom ’n lang orkesgedeelte met ’n wonderbaarlike vioolsolo, later aangevul deur die kwartet en koor. V. Agnus Dei: Adagio Dit begin met ’n bassolo waarby die ander lede van die kwartet en die koor hulle mettertyd voeg. Ook die tenoor en alt het solorolle en die werk eindig op ’n seëvierende noot.
OPERA
Fidelio (130 min) Opera in twee bedrywe. By Beethoven was die drang om ’n opera te komponeer oorweldigend. Hy het lank aan sy enigste opera gewerk, maar die eerste opvoering as Leonore was ’n mislukking en na twee verwerkings het Fidelio, soos ons die opera vandag ken, in 1814 sy finale beslag gekry, met die ouverture wat vandag daarby gehoor word. Voor die tyd het Beethoven drie *Leonore-ouvertures geskryf, waarvan No 3 sedert Mahler dikwels tussen die twee tonele van bedryf II gespeel word. Die handeling vind plaas in ’n tronk naby Sevilla in die agtiende eeu. Bedryf I. Toneel 1. Die sipier Jacquino (ten) betuig sy liefde aan Marzelline (sop), dogter van die opsigter Rocco (bas). Hy kom binne saam met die kneg Fidelio (sop), wat in werklikheid Leonore, vrou van die gevangene Florestan is, en haar as man vermom het om by haar eggenoot te kom. Rocco sinspeel daarop dat sy dogter en Fidelio gaan trou en daar volg ’n kwartet (Mir ist so wunderbar – Ek voel so vreemd) en ’n aria deur Rocco (Hat man nicht auch Gold beineben – As daar nie ook goud is nie). Fidelio vra of hy saam met Rocco die tronk kan binnegaan en Rocco vertel van ’n spesiale gevangene in eensame opsluiting. I. 2. Die binneplaas. Die bose tronkgoewerneur don Pizarro (bar) daag op en kry ’n brief met die berig dat die minister, don Fernando, op pad is om ondersoek na toestande in die tronk te kom instel. Pizarro wil dadelik van sy gevangene (Florestan) ontslae raak en beveel Rocco om ’n graf te grawe. Fidelio het die gesprek gehoor en vermoed dit is haar man. Sy gee uiting aan haar gevoelens in ’n groot vertoonstuk (Abscheulicher! – Komm Hoffnung – Afskuwelike – Kom, o hoop). Sy oorreed Rocco om die gevangenes op ’n mooi lentedag uit te laat, wat hy doen (koor O welche Lust – O watter vreugde). Pizarro is egter woedend en beveel hom om die gevangenes terug te stuur (koor Leb wohl, du warmes Sonnenschein – Gegroet, warme sonskyn). Bedryf II. Toneel 1. Florestan (ten) lê vasgeketting in ’n donker kerker en sing sy groot aria Gott, welch Dunkel (God, watter duisternis). Hy word flou. Rocco en Fidelio kom om die graf te grawe. Florestan kom by en Fidelio herken sy stem. Dan verskyn Pizarro en haal sy dolk uit, maar Fidelio rig ’n pistool op hom en ’n veraf trompet kondig die aankoms van Fernando aan. Man en vrou sing ’n roerende duo (O namenlose Freude – O naamlose vreugde). II. 2. (Hier word gewoonlik die ouverture *Leonore no 3 gespeel.) Don Fernando (bar) is in die binneplaas en sê hy het gekom om ongeregtighede te ondersoek. Florestan en die ander gevangenes word bevry en die opera eindig met ’n grootse ensemble ter ere van Leonore (Fidelio), oorheers deur die koor (Wer ein holdes Weib errungen – Wie ’n liewe vrou verower het). Pizarro word gearresteer.
Bel canto Mooi sang. Beskryf hoofsaaklik die Italiaanse, liriese legato styl met pragtige stemproduksie, veral in teenstelling tot die deklamatoriese styl.
BELL, WILLIAM HENRY (20 Aug 1873–13 Apr 1946) Suid-Afrikaanse komponis. Bell is in Engeland gebore en het in 1912 na Suid-Afrika gekom as hoof van die SA Musiekkollege en later professor in musiek aan die Universiteit van Kaapstad. Hoewel hy self gekomponeer het, is hy veral bekend om sy werk as leermeester van en yweraar vir sy studente, van wie die belangrikste Hubert *du Plessis, Gideon *Fagan, Blanche *Gerstman en John *Joubert was.
BELLINI, VINCENZO (3 Nov 1801–23 Sept 1835) Italiaanse komponis. Hy was die seun van ’n Siciliaanse orrelis en is met die steun van ’n weldoener na die Konservatorium van Napels. Hy het vroeg reeds die aandag van operadirekteure getrek en verskeie suksesvolle operas gekomponeer waarvan die meeste vandag vergete is. Die eerste groot werk wat nou nog opgevoer word, was *La Sonnambula (1831), wat oral goed ontvang is. Binne tien maande skryf hy *Norma, een van die beroemdste naamrolle in die Italiaanse opera. In 1833 gaan hy vir ’n kort rukkie na Engeland en van daar na Frankryk, waar hy op aanbeveling van Rossini uitgenooi word om ’n opera te komponeer; so ontstaan *I Puritani. Bellini is onverwags oorlede en sy begrafnis was die dag na die eerste opvoering van I Puritani. Die begrafnis was indrukwekkend met ’n mis o.l.v. Rossini en Cherubini, gebaseer op motiewe uit I Puritani en met byna al die soliste uit die opera. In 1876 is hy herbegrawe op sy geboorteplek, Catania in Sicilië.
Bellini het die virtuoos-liriese tradisie van Italiaanse *bel canto-operas, waarvan Rossini en Donizetti die ander belangrike beoefenaars was, afgesluit en met ’n werk soos Norma die meer dramatiese werk van Verdi voorafgegaan. Hy was goed bevriend met Chopin, en daar word soms gesê dat Chopin se klavierstyl in sy meer ornamentele oomblikke beïnvloed is deur Bellini.
OPERA
Norma (160 min) Opera in vier bedrywe. Die eerste opvoering was ’n mislukking, maar Norma het een van die gewildste operas in die repertoire geword. Bedryf I. Die priester Oreveso (bas) lei ’n diens